VN-veldtog kry spoed

Een van die groot projekte wat Solidariteit dié jaar aanpak, is die VN-veldtog. Solidariteit beoog om op 25 Augustus 2015 ’n skaduverslag op die regering se verslag oor die uitwissing van rassediskriminasie in Suid-Afrika by die Verenigde Nasies in te dien. In die verslag wil Solidariteit bewys dat die manier waarop die regering onbillike regstellendeaksie-praktyke toepas, juis tot die rassespanning in Suid-Afrika bydra.

Met die oog op die finale indiening van die skaduverslag, verwelkom Solidariteit insette van individue en organisasies op die eerste konsep van dié verslag. Solidariteit streef daarna om dié waardevolle terugvoer in sy verslag in te sluit sodat ook hierdie stemme tydens die indiening van die verslag in Genève gehoor word. Die eerste konsep sal op 13 Mei 2015 bespreek word.

Die VN-veldtog is geloods nadat die konstitusionele hof bevind het dat daar nie onbillik teen luitenant-kolonel Renate Barnard gediskrimineer is toe sy vir ʼn bevordering in die polisie oor die hoof gesien is nie. Die mees onlangse oorwinning in die arbeidsappèlhof, waar die uitspraak gelewer is dat die departement van korrektiewe dienste (DKD) onregmatig die nasionale rassedemografie in die Wes-Kaap tydens bevordering toegepas het, sal ook groot waarde by Solidariteit se argument voeg.

Die regering het in dié saak hul praktyk om die nasionale rassedemografie in die Wes-Kaap toe te pas, probeer verdedig. Die gevolg hiervan is dat veral bruin werknemers byna geen kans op bevordering sou hê nie.

Die grootste probleem van die Suid-Afrikaanse regstellendeaksieprogram is dat dit ontaard het in ʼn getallespel wat geensins op regstellende aksie betrekking het nie en net oor ras gaan. Die Suid-Afrikaanse regering se oordrewe fokus op rasseverteenwoordiging gaan sterk in die skaduverslag beklemtoon word.

  •  
  •  
  •  

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close