Staat moet minder inmeng, bestee – Solidariteit

Die vakbond Solidariteit het in aanloop tot minister Pravin Gordhan se begrotingsrede gesê dat die land se ekonomie slegs beduidend sal herstel mits staatsinmenging in die ekonomie en staatsbesteding drasties afneem. Die vakbond het voorts vier voorskrifte vir ekonomiese groei daargestel.

Gerhard van Onselen, ekonomiese navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), het die hoop uitgespreek dat minister Gordhan in sy begrotingsrede sal benadruk dat die regering minder gaan doen en minder gaan spandeer aan die dinge wat hy steeds doen.

“Ons beskou die voortsetting van sentralisering en inmenging deur die staat as die verkeerde medisyne wat die ekonomie verder sal strem. Ons siening is dat daadwerklike hervorming van wette en beleid om die beginsels van ware ekonomiese vryheid te reflekteer, nodig is,” sê Van Onselen.

Van Onselen wys daarop dat dit vir die staat baie moeilik gaan wees om sy skuldvlakke onder 50% van die Bruto Binnelandse Produk – ʼn sielkundig belangrike waarskuwingsvlak – te bestendig.

“In toestande van swak ekonomiese groei gaan die staat hoër belastingkoerse as onafwendbaar beskou om sy skuld onder bedwang te bring, maar weens die ontmoedigende gevolge van hoër belasting op deelnemers aan die ekonomie waarborg dit nie noodwendig ’n toename in staatsinkomste nie. Hoër belastingkoerse kan inteendeel die kapitaalbasis van die ekonomie verder verswak. Die enigste volhoubare oplossing is dat besteding daadwerklik ingekort word, wat onder andere gedoen kan word deur irrelevante staatsdepartemente, staatsinstellings en projekte af te skaf,” sê Van Onselen.

Hieronder volg ʼn opsomming van Solidariteit se voorskrifte wat ekonomiese groei sal aanwakker:

  1. Vrye kapitaalvorming teenoor staatsbesteding. Produktiewe mense en besighede moet toegelaat word om hul spaargeld volgens hul eie oordeel en kundigheid aan kapitaaluitbreiding te bestee, eerder as om dit toenemend in die vorm van belasting aan die staat te betaal om na sy goeddunke te spandeer.
  2. Daadwerklike inkorting van staatsbesteding. ʼn Werklike inkorting van die staat se besteding is nodig – nie net ʼn daling in die koers waarteen staatsuitgawes groei nie. Om dit te bewerkstellig, kan irrelevante staatsdepartemente en projekte in geheel afgeskaf word.
  3. Hersiening van beleid rondom staatsinstellings. Instellings soos die SAA en die SABC moet op die vrye mark verkoop word. Dit moet ook gepaardgaan met ʼn hersiening van die regsraamwerke wat hierdie instellings bevoordeel en werklike mededinging op hul gebied uitskakel.
  4. Beleidshervormings. Wette en beleide oor onteiening, grondbesit, Swart Ekonomiese Bemagtiging en Regstellende Aksie wat skadelik vir die ekonomie is, moet omgekeer word om die ekonomie ’n hupstoot te gee.
  •  
  •  
  •  

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close