Solidariteit versterk sy veldtog teen Discovery Bank

Solidariteit het vandag aangekondig dat hy sy veldtog teen Discovery Bank se eksklusiewe swartbemagtigingstransaksie radikaal gaan verskerp.

Volgens Discovery is die transaksie ʼn maatskaplike en ʼn wetsvereiste.

In ʼn tweede ope brief aan Adrian Gore, die uitvoerende hoof van Discovery, skryf dr. Dirk Hermann dat dit nie waar is dat die Bankwet transformasie as vereiste vir lisensiëring stel nie.

“Selfs die bemagtigingshandves van die finansiële sektor bied verskeie opsies waardeur aan die handves voldoen kan word. Daar bestaan dus verskeie alternatiewe, maar Discovery het die radikale opsie om wit mense uit te sluit, self gekies. Discovery het dus alternatiewe,” het Hermann gesê.

ʼn Spesiale webwerf, honderde duisende sms’e, ʼn Whatsapp-veldtog en veldtogte op Facebook en Twitter gaan gebruik word om druk op Discovery uit te oefen om hul bemagtigingstransaksie inklusief te maak.

“Ons het besluit om die veldtog te verskerp nadat dit duidelik uit Discovery se reaksie blyk dat hulle voortgaan om wit mense uit hul transaksie te sluit. Volgens ʼn interne skrywe aan personeel moet dit as ʼn oorwinning geag word as ʼn kliënt van die rasionaal van die swart transaksie oortuig word en dit word duidelik gestel dat die transaksie voortgaan. Discovery luister dus nog nie na hul kliënte nie en kliënte se stem moet dus nog harder gehoor word.”

ʼn Spesiale platform is op Solidariteit se webwerf geskep waardeur duisende mense hul stemme kan laat hoor. Volgens Solidariteit is die platform geskep na aanleiding van die onderneming wat Discovery gegee het dat hulle na mense sal luister.

Solidariteit het ook ʼn spesiale diens op sy webwerf beskikbaar gestel waardeur mense eksterne professionele diens kan kry as hulle van mediese fonds wil verander.

“Ons is oorweldig deur mense wat van mediese fonds wil verander en advies in die verband vra. Ons kan nie advies gee nie, maar gaan mense in kontak bring met professionele mense om hulle te adviseer,” het Hermann gesê.

 

  •  
  •  
  •  

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close