Solidariteit versoek parlementêre debat oor skaduverslag

Die vakbond Solidariteit het vandeesweek namens meer as 300 000 Suid-Afrikaners, insluitend die vakbond se lede, die speaker van die parlement versoek om ʼn parlementêre debat te hou oor die regering se verontagsaming van die VN-konvensie wat alle vorme van rassediskriminasie wil elimineer. Solidariteit gebruik sy reg ingevolge artikels 56(d) en 69(d) van die Grondwet om die parlement te petisioneer.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, sê die vakbond het ook sy skaduverslag oor regstellende aksie aan die speaker, Baleka Mbete, oorhandig. “Ons het namens die Solidariteit Beweging se meer as 300 000 lede aan die speaker gesê die staat se rassebeleid gaan verder as wat internasionaal toegelaat word en voldoen nie meer aan die internasionale vereistes van regstellende aksie nie.”

Die vakbond het ook verskeie politieke partye versoek om ʼn parlementêre debat oor die inhoud van die skaduverslag aan te vra.

Hermann sê Solidariteit glo dat die oplossing vir regstellende aksie nie net in die howe gesetel is nie en dat die werklike oplossing deur sosiale dialoog gevind moet word.

“Solidariteit vertrou dat die debat wat in die hofsale gevoer word nou na ʼn nasionale debat sal oorspoel en dat die uitkoms ʼn nuwe nasionale konsensus oor regstellende aksie sal wees. Die beste plek om so ’n debat te voer, is in die parlement. Ons fokus op ʼn saak wat alle Suid-Afrikaners raak en wat ’n brandpunt vir almal, ongeag ras, geword het. Suid-Afrikaners oor ʼn breë spektrum is moeg vir die swak dienslewering deur staatsinstellings as gevolg van ʼn oordrewe fokus op ras,” sê Hermann.

 

  •  
  •  
  •  

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close