Solidariteit vat Eskom hof toe oor rasseplan

Die vakbond Solidariteit het onlangs hofstukke bekendgemaak waarin hy die arbeidshof onder meer vra om die nasionale kragvoorsiener se huidige regstellende-aksieplan ongeldig te verklaar. Die vakbond meen dié plan sal Eskom se vaardigheidskorps verder uitdun en die heersende kragkrisis vererger, wat alle mense in Suid-Afrika negatief sal raak.

Solidariteit se hofaansoek is op beide prosedurele en substantiewe besware gebaseer. In sy hofaansoek betoog die vakbond dat Eskom in gebreke gebly het om genoegsaam met betrokke partye oor sy nuwe regstellendeaksie-plan te konsulteer alvorens die plan gefinaliseer is. Daarby is die numeriese teikens wat in Eskom se regstellendeaksie-plan vervat word, slegs op die nasionale rassedemografie geskoei en neem dus glad nie die rasseverspreiding van potensieel toepaslike kwalifikasies in ag nie.

“Kwalifikasies is nie gelyk onder die verskillende bevolkingsgroepe versprei nie. Dit is gevolglik onredelik van Eskom om sonder meer te verwag dat posvlakke wat sekere kwalifikasies vereis, die rasseverspreiding van die bevolking moet weerspieël,” sê Johan Kruger, adjunkhoof van Solidariteit.

Kruger verduidelik dat Eskom oor die volgende jaar van nagenoeg 1 967 professioneel gekwalifiseerde en vaardige werknemers ontslae wil raak as deel van sy planne. Daarby het die kragvoorsiener reeds planne bekendgemaak waarvolgens die nasionale rassedemografie teen 31 Maart 2020 op alle vlakke in die maatskappy weerspieël moet word. Dit beteken dat Eskom van nόg mense met waardevolle vaardighede ontslae wil raak.

“Eskom se werknemers beskik oor gespesialiseerde kennis en ervaring wat nie sommer vervang kan word nie. Eskom boet dus noodsaaklike vaardighede in ten einde sy ideologie van nasionale rasseverteenwoordigendheid te verwesenlik. Dit is ʼn verloor-verloor-situasie waardeur alle mense in Suid-Afrika negatief geraak sal word. Ons poog om hierdie vernietigende praktyk deur middel van ons hofaksie te stuit,” sê Kruger.

  •  
  •  
  •  

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close