Solidariteit en ander applikante wen saak teen staat oor aanstelling van voorlopige likwidateurs

Solidariteit en die Concerned Insolvency Practitioners (Cipa) het in Januarie ’n gunstige uitspraak van die Wes-Kaapse hooggeregshof bekom nadat die applikante aangevoer het dat die aanstellingsbeleid van voorlopige likwidateurs ongrondwetlik en slegs op ’n onregmatige kwotastelsel gebaseer is. “Indien die aanstellingsbeleid toegepas sou word, sou dit werknemers van hul reg ontneem het om voorlopige likwidateurs op grond van bevoegdheid, kennis en ervaring aan te stel aangesien ras die enigste beslissende faktor sou wees,” het Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke gesê. Die staat het ná die uitspraak egter appèl teen die uitspraak aangeteken.

 

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het in April die staat se aansoek om appèl van die hand gewys en beslis dat die staat geen grondige redes gehad het om die vroeëre uitspraak in die saak teen te staan nie. Groenewald het soos volg op dié uitspraak gereageer: “ … dit bevestig weereens dat die gebruik van rasgebaseerde kwotas nie ’n wettige regstellende-aksiemaatstaf is nie.”

 

Die staat het tydens die hofverrigtinge aangevoer dat die nuwe aanstellingsbeleid ten doel het om die verteenwoordiging van voorheen benadeelde persone in die beroep van likwidateurs te bevorder. Met dié uitspraak deur die Wes-Kaapse hooggeregshof het Solidariteit nog ’n slag geslaan teen die regering se rasgebaseerde kwotastelsels.

 

Hierdie saak vorm ’n wesenlike deel van Solidariteit se regsstrategie teen die onbillike toepassing van regstellende aksie. Tientalle hofsake teen die staat maak deel uit van dié strategie.

  •  
  •  
  •  

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close