Solidariteit beveg DKD-saak in konstitusionele hof

Aanstaande week, op 18 November, gaan die vakbond Solidariteit se saak deur die konstitusionele hof aangehoor word. Dit volg nadat die arbeidsappèlhof op 10 April vanjaar in Solidariteit se guns beslis het deur te bepaal dat die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) nie slegs die nasionale rassedemografie by die aanstelling en bevordering van werknemers in ag mag neem nie. Solidariteit het die DKD in 2013 namens tien werknemers hof toe geneem omdat die departement slegs die nasionale rassedemografie as kriterium vir aanstellings wou gebruik.

Die hof het egter steeds nie individuele regshulp aan die applikante toegeken nie, en het aangedui dat daar nie ’n duidelike bewys is dat die lede wel in die genoemde poste aangestel sou word indien die DKD die streek se demografie as riglyn gebruik het nie. Die laasgenoemde twee aspekte het Solidariteit genoop om die saak na die konstitusionele hof te verwys.

“Ons stem nie met die hof se standpunt hieroor saam nie aangesien ons lede deur ’n paneel as die mees geskikte kandidate vir die betrokke poste geïdentifiseer is. Ons meen ons lede sou wel aangestel gewees het as dit nie vir die DKD se afdwinging van die nasionale rassedemografie was nie. Dit is om hierdie rede wat ons nou die konstitusionele hof nader,” het Dirk Groenewald, hoof van Solidariteit se Sentrum vir Billike Arbeidspraktyke, gesê.

Dié prominente hofsaak teen die DKD het reeds in 2012 begin toe die vakbond ʼn aantal sake oor die DKD se omstrede regstellendeaksieplan gekonsolideer het. Volgens dié plan moet die nasionale rassedemografie in alle posvlakke weerspieël word, ongeag die profiel van die provinsie of streek. Bruin Suid-Afrikaners maak sowat 51% van die ekonomies aktiewe bevolking van die Wes-Kaap uit, en in talle spesifieke streke is die persentasie nóg hoër, terwyl hulle op nasionale vlak slegs sowat 8,8% van die totale bevolking uitmaak.

Solidariteit het ’n verdere hofaansoek teen die DKD gebring nadat die departement die hofuitspraak, wat hom verplig om die streeksdemografie in sy teikens vir gelyke indiensneming in ag te neem, verontagsaam het. Regter Annelie Basson het op 9 Oktober vanjaar in die Kaapse arbeidshof bevind dat die DKD wel nie aan die vroeëre arbeidshofbevel voldoen het nie. Gevolglik moes mnr. Zach Modise, nasionale kommissaris, op 6 November 2015 in die Kaapse arbeidshof verskyn om redes te verskaf waarom hy nie skuldig is aan minagting van die aanvanklike hofbevel nie.

  •  
  •  
  •  

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close