MRK sê regstelwet moet verander ná Solidariteit-klag by VN

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (MRK) het in ʼn verslag oor gelykheid bevind dat die Wet op Diensbillikheid gewysig moet word.

Volgens dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, beteken dit kortliks dat Suid-Afrika se regstellendeaksie-wetgewing onwettig is. Die MRK-verslag volg nadat Solidariteit ʼn verslag oor SA se regstellendeaksieprogram by die Verenigde Nasies se komitee vir die uitskakeling van rassediskriminasie (“Committee on the Elimination of Racial Discrimination” – CERD) asook ʼn petisie by die MRK ingedien het.

Hermann het ook gesê dat hierdie verslag en aanbevelings van kardinale belang is en dat dit die gesig van regstellende aksie vir altyd gaan verander.

Die MRK het onder andere bevind dat die Wet op Diensbillikheid nie aan die vereistes van die Verenigde Nasies se Internasionale Konvensie oor die Uitskakeling van Alle Vorme van Rassediskriminasie (“International Convention on the Elimination of All Forms of Racial Discrimination” – ICERD) en die Grondwet van Suid-Afrika voldoen nie.

Volgens die MRK-verslag moet regstellende aksie sensitief vir konteks wees en moet streeksdemografie in ag geneem word. Die huidige rasseklassifikasie is nie aanvaarbaar nie en maatstawwe moet meer genuanseerd wees. Die verslag het ook bevind dat behoefte in ag geneem moet word, dat daar ʼn einde moet wees aan regstellendeaksiemaatstawwe en dat sodanige maatstawwe in Suid-Afrika te rigied is en neerkom op ʼn kwotastelsel.

Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, die Diensbillikheidskommissie en die Departement van Arbeid moet binne ses maande vanaf Julie 2018 terugvoer aan die MRK gee oor watter stappe gedoen is om die Wet te wysig.

“Die aanbeveling van die MRK as artikel 9-instelling is net so bindend soos aanbevelings van die Openbare Beskermer. Die regering gaan nie daarvan kan wegkom nie. Die Wet gaan moet verander. In ons 20 jaar lange stryd oor regstellende aksie is hierdie ons grootste deurbraak nóg. Dit is ʼn bevestiging dat ons oor baie jare reg was dat ras nie die enigste faktor in regstellende aksie kan wees nie,” het Hermann gesê.

Solidariteit het ook aangekondig dat hy die howe gaan nader vir ʼn verklarende bevel om sekerheid te gee oor hoe die situasie deur werkgewers en die Departement van Arbeid hanteer moet word totdat die Wet gewysig word.

“Suid-Afrika sit nou met die dilemma dat ons ʼn wet het wat nie voldoen aan die vereistes van internasionale konvensies of die Grondwet nie. Die implementering daarvan sal tot skendings van regte lei. Ons soek duidelikheid hoe werkgewers die situasie moet hanteer. Besigheid soos gewoonlik is egter nie meer ʼn opsie nie,” het Hermann verder gesê.

Gedeeltes vanuit die MRK-verslag wat betrekking hou kan hier beskou word.

Jóú bydrae maak die hofaksies wat nou volg moontlik. Wees asseblief so gaaf om hierdie goeie nuus met jou vriende en kollegas te deel en hulle aan te moedig om ook te oorweeg om bydraers van Solidariteit se regsfonds te word. Sáám veg ons vir ʼn Suid-Afrika waar ras nie jou waarde bepaal nie.

Om ʼn bydraer te word, klik hier of SMS die woord REG na 34802 (R1/SMS).

  • 1
  •  
  •  

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close