Molefe en Motsoeneng versterk Regsfonds met R1,3 miljoen

Deur Monica Mynhardt

Hoewel daar duisende mense is wat maandeliks bydra tot Solidariteit se Regsfonds, was daar vanjaar twee individue wat vir die grootste bydrae tot nog toe gesorg het. Brian Molefe, voormalige Eskom-hoof, en Hlaudi Motsoeneng, voormalige SAUK-bedryfshoof, het gesamentlik nie minder nie as R1,3 miljoen tot dié fonds bygedra – twee van Solidariteit se grootste suksesverhale vir die jaar.

“Benewens die feit dat Solidariteit twee belastingsplunderaars aanspreeklik gehou het vir hul oortredings, het die vakbond daarin geslaag om dié twee te kry om by te dra tot die geveg teen soortgelyke belastingsboewe,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.

In 2017 reeds het Solidariteit ’n hofproses teen Molefe begin om hom aanspreeklik te hou vir die R30 miljoen waarmee hy homself onregmatig vergoed het uit die Eskom-pensioenfonds. Molefe se verryking vanuit die pensioenfonds was nie die gevolg van een of ander administratiewe misverstand nie, maar eerder die vrug van korrupsie en staatsplundering. Daarom het Solidariteit die saak aangepak, nie net in belang van Eskom-werknemers nie, maar ook in belang van alle Suid-Afrikaners. Hierdie saak het tot by die Kontitusionele Hof gevorder, waar die finale uitspraak was dat Molefe nie net die pensioenvoordeel moet terugbetaal nie, maar ook aanspreeklik is vir Solidariteit se regskoste. Molefe het in September vanjaar ’n finale betaling van R283 758,96 gemaak om sy totale regskoste van net minder as R800 000 te vereffen. Hoewel die Molefe-hofsaak oor twee jaar gestrek het en die wiel van geregtigheid maar stadig gedraai het, het die wiel nietemin gedraai.

Hlaudi Motsoeneng se hofstryd het in 2016 reeds begin toe die arbeidshof beslis het dat hy persoonlik aanspreeklik gehou moet word vir die drama met die sogenaamde SAUK 8. Motsoeneng was regstreeks verantwoordelik vir die onregmatige afdanking van agt SAUK-joernaliste wat nie bereid was om stil te bly oor die toegepaste politieke sensuur van daardie tyd in die SAUK nie. Tydens Motsoeneng se appèl teen hierdie uitspraak het tien regters van die Konstitusionele Hof eenparig beslis dat hy verantwoordelik is vir die regskoste van Solidariteit en Bemawu wat die SAUK 8 verteenwoordig het. In Januarie vanjaar het Motsoeneng ’n eerste paaiement van R300 000 opgedok en met sy laaste paaiement in Augustus vanjaar het hy sy totale skuld van R460 426,77 vereffen.

“Hlaudi Motsoeneng het homself as onaantasbaar en polities oppermagtig beskou. Hy het hom egter lelik in die gereg vasgeloop en is in sy spore gestuit in sy openlike aanval op persvryheid en gepoogde politieke sensuur van binne die SAUK en baie spesifiek die betrokke agt joernaliste,” aldus Hermann.

Solidariteit het besluit om die geld wat deur Motsoeneng en Molefe betaal is, aan te wend vir soortgelyke sake teen belastingmisbruik.

“Misdadige politici wat wegkom met al hul wandade gaan nie langer geduld word nie,” sê Hermann. “Waar politici aanspreeklik is, sal Solidariteit hulle aanspreeklik hou. Maandeliks versterk duisende Regsfondslede ons geveg teen onreg, maar in 2019 het hierdie twee teësinnige skenkers onverwags ons hande én moed versterk.”

Die suksesverhaal van hierdie twee hofsake is veel meer as net ’n wen in die hof vir Solidariteit, het Hermann bygevoeg. “Die sake teen Molefe en Motsoeneng is simbolies van ’n onstuitbare hernieude stand teen die oneerlikheid en bedrog van politici wat ons land en sy mense wil stroop van welvaart, integriteit en hoop.”

  •  
  •  
  •  

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close