Die stryd om die ordes

Deur Flip Buys

Daar is niks so magtig soos ’n idee wat massas besiel nie. Die Calvinistiese filosoof, prof HG Stoker, het reeds in die vroeë veertigerjare die verskillende ideologiese denkstrominge behandel in sy meesterwerk, Die Stryd om die Ordes. Maar selfs Karl Marx het tereg gesê dat die “idees van die regerende klas die regerende idees van die samelewing is”. Die regerende idee in vandag se Suid-Afrika is die staatsideologie van Transformasie. Dít was onlangs weer sigbaar toe Stellenbosch se nuwe rektor (moes) bely hoe pro-Transformasie hy is.

 

Die konsep van Transformasie het eers tydens die ANC se Mafikeng Kongres in 1997 ontstaan, maar het sedertdien die amptelike staatsideologie en bykans die “staatsgodsdiens” geword. Dit het waarskynlik ontstaan toe die ANC ’n meer aanvaarbare term gesoek het vir hul jarelange beleid van rewolusie. Transformasie is ‘n jaloerse afgod, wat geen ander sienings verdra nie. Wie dit nie bely nie, gaan reguit na die politieke brandstapels toe. Dit bepaal die grense van die openbare debat, en verskaf die “goedgekeurde” woordeskat van die nasionale diskoers. Dit versprei soos ‘n aansteeklike virus wat die denke vasvries en die koppe kloon. Hierdie idee het die land se regerende idee geword, en opposisiegroepe se idees wentel rondom hierdie “ideeplaneet”. Net enkele instellings bly onafhanklik dink, en word nie die ideologiese slawe van hierdie afgod nie.

 

Selfs veronderstelde “denkfabrieke” soos universiteite het ideologies opgehou dink. Mediakritiek bly binne hierdie ideologiese wentelbaan. Die ideologiese vertrekpunt word die redaksionele verwysingspunt, en foute word toegeskryf aan “verkeerde toepassings”- of die stomme Zuma word die veilige slaansak. Dis hoekom die land lyk soos hy lyk, want die regerende idee word nie intellektueel uitgedaag nie, behalwe deur enkele groepe en onafhanklike intellektuele. Ekstremiste wat dit met ‘n vergiftigde woordeskat of vergange idees beveg, is eerder welkome petrol op die ideologiese vagevuur.

 

“Transformasie” is ondefinieerbaar, maar in die Suid-Afrikaanse konteks dui dit op radikale omwenteling, nie op ‘n meer werkbare drastiese verbetering nie. Dit is die ideologiese lokomotief vir die glybaan na mislukking waarop die Staat voortsnel; nogtans stoom die trein steeds voort – dwarsoor derduisende mense se toekoms in platbestuurde openbare skole, staatshospitale, opleidingskolleges en polisiekantore.

 

Daarom moet die “Stryd om die Ordes”, weer aangeknoop word, die ondenkbare móét gesê word, die stryd om idees moet gewen word, die kolonisasie van die verstand moet gestop word, want idees regeer die wêreld. Die Afrikaner se intellektuele tradisie bied oorgenoeg goud wat weer ontgin en herontdek kan word. Daarmee saam beskik ons oor genoeg denkers wat weer vir ons ’n pad vorentoe kan uitdink. Die begronding van ons historiese strewes en ons kultuurpolitieke verbeelding moet weer op die voorgrond geplaas word. Die nuwe stryd om die ordes moet en kan gewen word.

 

 

 

  •  
  •  
  •  

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close